PRES. STEYN & JAN RUITER

“DIE VOORSTE AGTERRYER”

Aan die begin van Julie 1901, was Pres. Steyn van die OVS te velde saam met lede van sy regering naby die dorpie Reitz (vernoem na F.W Reitz, die OVS president voor Steyn, en op daardie stadium Oom Paul se Staatsekretaris van die ZAR), waar hulle vanaf die Transvaal gekom het na besprekings met die ZAR regering oor die Oorlog.

Omstreeks twee-uur die oggend van 11 Julie 1901, het Pres. Steyn opgestaan, en, soos ouder gewoonte, gaan seker maar dat alles in orde was in sy kamp. Jan Ruiter, sy agterryer, het ook opgestaan om solank koffie te maak, maar het ‘n geluid gehoor wat hy eers aan die beeste toegeskryf het.

Vinnig het Ruiter besef dat dit nie beeste was nie, maar wel ‘n mag berede Britse soldate wat afjaag op die kamp van Pres. Steyn.

Hy storm die president se tent binne met die waarskuwing dat “…die Engelse hier is!”, waarna hy Steyn (wat nog in sy nagklere was!) na sy perd, Scott, kon neem sodat hy kan ontsnap.

Tydens hul vlug het Steyn kort by hom gehoor hoe iemand ‘HALT!’ roep, waarna ‘n skoot afgevuur is, en Ruiter van sy perd gespring het. Pres. Steyn het nie geweet of Ruiter gewond was nie, maar sou later die res van Ruiter se heldedaad hoor.

Van die perd afgespring, is Ruiter deur ‘n Britse Offisier gekonfronteer & gevra wie die man op die perd was.

“Dis sommer ‘n ou boer”, het hy geantwoord en is daarna beveel om die Offisier na die president se tent te neem. Ruiter het die man van een plek na die ander gelei om sodoende geleentheid te skep vir Steyn om sover moontlik van die kamp af te kom voordat hulle agterkom dat hy nie daar is nie.

Uiteindelik bring Ruiter die Offisier toe net terug na waar die res van die regering reeds deur die Britse soldate gevangene geneem is.

Op daardie stadium wou die Britse soldate die hoed (keil) en mantel van die president verbrand, waarop Ruiter geroep het: ” A nee a! Julle kan nie sommer my klere verbrand nie!” . Hy het daarna die keil self gedra, en het die President se adjudant, Corneels du Preez later weer vir Ruiter raak geloop, en gevra hoe dit met die President se keil op sy kop gaan. Ruiter se antwoord was: “Dit is maar swaar om eendag Ruiter en die ander dag president te wees!”

Pres. Steyn het tydens sy vlug ‘n boer teëgekom wat tydens sy verlof in Basoetoland klere gaan smokkel het, en kommandeer toe die man se hoed – hulle sou later weer ontmoet, waartydens die president aangedring het dat hulle dadelik na ‘n winkel gaan om vir die man ‘n nuwe hoed te koop!

Volgens een van Steyn se sekretarisse, sou die inhegtenisname van die President die Oorlog met ten minste ‘n jaar verkort het, siende dat Steyn as die hart & siel van die Vrystaat gesien was.

Ruiter sou vir President Steyn vergesel na die Vredesonderhandeling wat die Oorlog beëindig het,en danke aan sy slim optrede & lojaliteit teenoor Steyn, is ‘n katastrofiese gebeurtenis vermy. Ruiter het tot en met sy dood in 1944 op die President se plaas, ‘Onze Rust’, gewoon en werk, en is digby die sogenaamde ‘Boom van Sameswering’ begrawe (dié boom was van Steyn se geliefkooste plekke om te ontspan), en is die boom in 1950 as Nasionale Monument verklaar – wat indirek Ruiter se graf ‘n Nasionale Monument maak.