SIMON VAN DER STEL: “DIE VADER VAN SUID-AFRIKAANSE WYNBOU”

Simon van der Stel se vader Adriaan (Adriaen/Ariën) van der Stel, was ‘n invloedryke V.O.C amptenaar wat as die eerste Nederlandse Goewerneur van Mauritius gedien het.

Sy moeder was Maria Leviens, wat op haar beurt die dogter was van Hendrik Leviens en Maria da Costa. Laasgenoemde was van Indo-Portuguese afkoms, en is gebore aan die kus van Coromandel van Indië.

Dus was Simon van die Stel ‘n Eurasiër.

Simon het die hoogste pos aan die Kaap van Goeie Hoop van ‘n vroeë ouderdom in sy visier gehad – hy bestudeer geskiedenis, aardrykskunde, geologie, land –en wynbou. Hy werk as handelaar, boer, wynbouer en soldaat (hy dien as Kaptein in die Frans-Nederlandse Oorlog in 1672).

Simon se belangstelling in die land –en wynbou het begin na sy terugkeer na Amsterdam op 20 jarige ouderdom. Hy koop ‘n plaas naby die Muiderberg , net buite Amsterdam, wat ook die Muiden Kasteel gehuisves het – wat op sy beurt die ontmoetingsplek was van die “Muiderkring” – ‘n groep verligte intellektuele & kunstenaars wat byeengdkom het om nuwe idees, uitvindings en publikasies te bespreek.

Hy was ‘n intellektueel in sy eie reg, en het die Hoë Kommisaris H.A van Rheede tot Drakenstein in 1685 melding gemaak van Simon se kennis van “Stofafscheiding” (die ou Nedelandse woord vir ‘Scheikunde’, wat ons tans as Chemie ken).

Of die aankoop van die plaas in die nabyheid van dié vergaderplek bloot per toeval was, en of Simon dalk deel van dié groep verligtes was, is oop vir spekulasie, maar as die geskiedenis ons een ding van Simon van der Stel leer, is dat hy berekende besluite geneem het.

Sy plan met die Kaap was duidelik – hy wou dit verander van ‘n agterlike halfwegstasie na ‘n florerende nedersetting wat nie net tot Tafelbaai beperk is nie.

Hy stig in 1679 die dorpie Stellenbosch langs die Eersterivier, plant ‘n magdom eikebome in sy strate (vandaar die naam ‘Eikestad’), en is die Stellenbosch-vallei ook in die hartjie van die Suid-Afrikaanse wynbedryf.

Hy vestig Groot Constantia in 1685, met die oog daarop op as voorbeeld te dien van voortvarende land –en wynbou vir die ander boere aan die Kaap. Dit was, soos verwag, ‘n sukses, en is Groot Constantia se wyne sedert die 18e eeu onder die beste wyne in die wêreld getel. Dié landgoed se wyne was gunstelinge van onder andere Keiser Frederik die Grote van Prussië, Koning Louis Philippe van Frankryk, asook Napoleon Bonaparte.

Met die herroeping van die Edik van Nantes in Frankryk deur Koning Louis XIV in 1685, wat Protestantisme onwettig verklaar, doen Simon ‘n beroep op die Here XVII van die V.O.C om die Franse Hugenote toe te laat om na die Kaap te kom (veral dié met kennis van landbou & wynbou), met die grootste immigrasie in 1688, waartydens hulle in Olifantshoek gevestig het. Olifantshoek sou later ‘Fransche Hoek’ word vanweë die groot hoeveelheid Franse immigrante, wat later ook van die wêreld se voorste wyne sou produseer.

Oorlewering vertel dat hyself ‘n kunstenaar was, en dat hy as stokperdjie graag illustrasies gedoen het vir Bybelse verhale. Mens kan indink dat hy op sy oudag met ‘n glasie goeie rooiwyn in die hand, op Groot Constantia se stoep gesit en skets het, terwyl hy uitkyk oor die wynlande wat die vrug van sy arbeid voortbring.

Hy tree na 20 jaar uit die amp van Goewerneur in November 1699 waarna hy op Groot Constantia gaan bly en op 72 jarige ouderdom sterf in 1712.