“DIE REGTE JAN?”

‘n Paar jaar gelede was daar weer groot opskudding in die gedrukte pers (Cape Argus, 8 Januarie 2015) oor of die gesig wat ons vir jare al aanvaar as dié van Jan van Riebeeck waarlik hy is, en of die portret waar die man so bietjie meer gewig dra eerder die ware Jan is.

Vreemd dat hierdie stelling in ‘n baie vae berig met bitter min verduideliking gepubliseer was as iets nuuts – sulke aantuigings is al voor 1952 gemaak, en in 1984 het ‘n portret-kenner (Kretchmar) dit ‘blykbaar’ bewys.

Volgens die Argus word die Dirck Craey portret op die webwerf geheugenvanvederland.nl beskryf as “Portrait of a man, presumably Bartholomeus Vermuyden”, maar op dieselfde webwerf word ‘n soortgelyke portret beskryf as “Jan Antoniszoon van Riebeeck”.

In Die Burger is ‘n artikel gepubliseer in Mei 1990 waartydens Dr. Anna Böeseken, die groot Van Riebeeck-kundige (skrywer van “Jan van Riebeeck & sy gesin”, 1974) sê “…niemand kan bewys dat dit van Riebeeck is nie. Maar niemand kan bewys dat dit nie hy is nie.”

“Dis mense wat afleidings maak van geleerde stukke,” sê sy, “maar twyfel lei nooit na ‘n definitiewe bewys.”

Die “geleerde stuk” deur jonkheer F.G.L.O. van Kretschmar (in 1984) het verskyn in die jaarblad van die Nederlandse Centraal Buro voor Genealogie. Daarin word beweer dat wat ons beskou as die portrette van Jan en Maria van Riebeeck, waarskynlik van die koopman Bartholomeus Vermuyden en sy vrou Catharina Kettingh is.

Maar ten slotte sê Van Kretschmar dat dié stelling net gemaak kan word “behoudens teenbewys”. Dr. Böeseken: “Hy sê met ander woorde jy moet bewys ek (van Kretschmar) is verkeerd. Ek kan nie bewys dat ek reg is nie.”

Ek het self so bietjie gaan lees en op ‘n interessante artikel in die S.A Mediese Joernaal (SAMJ) van 5 April 1952 afgekom – wat tydens die 300 jaar Feesvieringe van Jan se landing gepubliseer is.

Volgens die artikel word die portrette van Jan & Maria deur Dirck Craey (geverf in 1650), deur die Rijksmuseum gesien as kontemporêre portrette wat geverf is in Schiedam kort voor hulle getroud is, en getuig die skrywer dat Jan & Maria se name agter op die portrette voorkom.

Ook, volgens die artikel, het die Munisipaliteit van Culemborg (sy geboortedorp) ‘n ander skildery van Jan in hul Raadsaal waar die voorkoms ooreenstem met dié van die Craey skildery, en word daar gedink dat hierdie skildery (bekend as die ‘Town House Picture’) in Malakka geskilder is om en by 1664 (2 jaar na hy die Kaap verlaat het vir Batavia).

Nog ‘n interessante punt is dat kunstenaars se siening van die persoon wat hulle skilder tog kan verskil, net soos hul talente kan verskil. (Gelukkig is hy nie deur Picasso geverf nie!)

Ook, die “Bataafse Portret” wat nou as die enigste ware portret voorgehou word, is in die 1660’s in Batavia geverf, meer as ‘n dekade na die Craey een – kan dit dalk wees dat Jan so bietjie gewig opgetel het in die 10 jaar tussen die twee skilderye? Die 1664 portret getuig reeds van ‘n ekstra rolletjie bo die kraag…

In 1952 het Nederland ook ‘n spesiale uitgawe van posseëls gepubliseer, waar daar twee ontwerpe was – een geskoor op Craey se skildery, die ander gebasseer op die ‘Bataafse portret’ – Craey se seël is uiteindelik aanvaar.

Ons het wel die algemeen aanvaarde afbeelding (die Dirck Craey portret) vir ons ontwerpe gebruik, omdat meeste mense dit herken as Jan van Riebeeck, en dat die aviator sonbrille dit toeganklik & tong-in-die-kies maak.

Belangriker selfs is dat dit ‘n sneller van emosie trek wat mens laat trots voel op jou geskiedenis, jou herkoms & jou erfenis, en jou laat terugdink aan die brawe mans & vrouens wat bereid was om hul lewens in hul geboorteland agter te laat, en vir maande ter seë te seil na ‘n onbekende land met onbekende omstandigehede, met koppe vol idees & harte vol drome, en sodoende, sonder dat dit hul doel was, vir altyd deel geword het van die ryke geskiedenis van Suid-Afrika.