DIE VERGETE BOEREGENERAAL

As lid van Krugersdorp in die Volksraad, was Viljoen (Soos De La Rey), gekant teen Pres. Kruger m.b.t die Uitlander-geskil, maar het, soos De La Rey, betrokke geraak by die konflik toe Oorlog onafwendbaar was.

Generaal Ben Viljoen was die ‘Vegtende Kommandant’ van die Johannesburge Vrywilligerskorps, wat van die begin betrokke was in die Tweede Anglo-Boereoorlog.

VRYHEIDSOORLOG

Na ‘n reeks uiters suksesvolle veldslae, word hy bevorder tot Assistent-Kommandantgeneraal in 1900, die tweede hoogste pos in die Boeremagte se militêre rangstruktuur.

Hy was een van die jonger Boeregeneraals (hy was 30 jaar oud met die uitbreek van die Oorlog), wat krities was oor die strategieë wat die ouers Generaals soos Genl. “Slim” Piet Joubert, gevolg het.

Hy was tydens die Slag van Elandslaagte (waar 850 Boere teen 3500 Britse soldate moes veg), deel van Genl. Kock se Kommando.

Tydens die veldslag het Viljoen vir Genl. Kock aanmoedig om op die Britse magte te vuur met hul artillerie, maar Kock het geweier…later in sy memoirs oor die Oorlog sou Genl. Viljoen skryf:

 “…dalk as daar meer gesag aan ons jonger kommando’s gegee is in die begin stadiums van die Oorlog, en dat ons minder met die arrogansie van die ou mans moes sukkel, sou ons Durban en Kaapstad gehaal het…”

Tydens die Slag van Vaalkrans, keer hy dat ‘n Boere-kanon in Britse hande val & is dit so deur Winston Churchill (wat tydens die Boereoorlog ‘n jong joernalis was), beskryf:

“A Maxim-Vickers gun abandoned by the Boers in a donga was about to fall into British hands, when that notorious ruffian, the fearless Viljoen himself, brought back a team of horses and escaped with the gun, threading his way between the red flames & black clouds of lyddite shells which the British artillery concentrated on him – a feat that, were it done by a British officef, he would assuredly be covered with decorations.”

Op 26 Januarie 1902 word hy tydens ‘n veldslag in die bors geskiet, en tref die patroon die boekie wat hy in sy sak gedra het, wat sodoende sy lewe red. Hy word daarna gevangene geneem, en as krygsgevangene na St. Helena eiland weggvoer.

(Generaal Piet Cronje, die eerstydse legende van die Eerste Anglo-Boereoorlog, was toe al op St. Helena sedert Februarie 1900.)

Met sy terugkeer na die afloop van die Oorlog, was daar vir hom niks om na terug te gaan nie – hy het geen eiendom gehad nie, was vasberade om nie Britse burger te word nie, en was hy hewig ontstel deur onwaar gerugte dat hy tydens sy inhegtenisneming kop in een mus met die Britse magte was, en het hy ook gevoel dat sy bydrae tot die Oorlog nie erken word nie.

AMERIKA

Hy vertrek in 1903 na die Amerika’s, waar die moontlik die opwindendste deel van sy loopbaan begin – saam met ander vlugteling-Boere-generaals met die hulp van Theodore Roosevelt, stig hy ‘n boerekolonie in Meksiko.

In 1904 vertrek hy saam met Genl. Piet Cronjé na die VSA, en neem deel aan die “St. Louis World Fair” (wat meer as 19 miljoen besoekers gelok het) se uitbeelding van die Anglo-Boereoorlog. Sonja Loots se boek “Sirkusboere” (2011), ‘n roman oor die lewe van Genls. Viljoen & Cronje tydens die World Fair, wen in 2012 die Eugene Marais prys.

In 1909 aanvaar hy Amerikaanse burgerskap, verkry ‘n kommissie as Majoor in die “Territorial National Guard’s 1st Regiment of Infantry” en was deel van die afvaardiging wat na Washington D.C gegaan het in 1911 om Nieu-Meksiko se aansoek te ondersteun om ‘n Amerika se 47e staat te word.

Hy dien ook vir ‘n kort tydjie as die VSA se diplomaat in Duitsland, en was ook die militêre adviseur van Fransisco Madero, die 33e president van Meksiko.

Tydens sy gevangeneskap op St. Helena, skryf hy sy memoirs (“My Reminiscences of the Anglo-Boer War”) wat gesien word as een van die mees akkuraatste & korrekte sienings van die Vryheidsoorlog, en skryf sluit hy die boek met die volgende af:

 “Whoever in the future governs South Africa, the two races must live together, and when the day of peace arrives and the sword is sheathed, let us hold out our hands to eachother like men, forgetting the past and remembering the motto – Both nations have done their duty.”

Hy is op 47 jarige ouderdom oorlede in 1917 op sy plaas ”La Messa”, in Nieu-Meksiko, VSA.